Monday, July 27, 2009

Book of the Month August 2009




Naudé's van Naudésnek ; bouers van die Naudésnekpas oos van Rhodes, en hul voor- en nageslag / saamgestel deur Stephanus David Naudé in samewerking met verskeie lede van die familie.

Uit die Voorwoord:
Hierdie boek het ontstaan nadat oom Giep Goosen van Tzaneen en sy familie my op 5 Januarie 2008 besoek het. Sowat twee weke na hul besoek het oom Giep my gevra of ek bereid sou wees om 'n boek met baie foto's oor sy ma se mense saam te stel. Hy het die reëlings getref vir my besoek aan die Oos-Kaap gedurende April 2008 en dosyne telefoonoproepe gedoen om inligting en foto's by familielede aan te vra. Tant Lena Naudé van Lady Grey het my bederf en al die ou Naudé-foto's wat sy besit, aan my beskikbaar gestel. Tydens my besoek aan die Rhodes-omgewing is ek behoorlik op die hande gedra. Stephanus en Melani Naudé van die plaas "Dunley" het uit hul pad gegaan om my te versorg. ............. baie dankie vir jul hulp en gasvryheid
Faan Naudé.
26 Maart 2009

Iets oor die samesteller:
Die samesteller, Faan Naudé, is 'n agter-agterkleinseun van Charel Naudé, nommer 3 in hierdie boek.
Faan het kort nadat hy gegradueer het, in 1973 by die Staandemag aangesluit waar hy gevorder het van luitenant tot kommandant. In 1982 het hy by die Raad vir Geesteswentenskaplike Navorsing (RGN) aangesluit as hoofnavorser. Gedurende die tyd wat hy by die RGN werksaam was, is hy bevorder tot assistent-direkteur en later adjunk-direkteur. Hy is tans verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Departement Biblioteekdienste.
Sy belangstelling in sy afstamming het begin na die geboorte van sy seun, Jacob Petrus, genoem Peet, gebore 18 Mei 1984. Aanvanklik het hy net sy eie lyn terug tot by die stamvader nagevors. In die proses het hy al die Naudé inligting wat hy teëgekom het, aangeteken. Later het hy begin om die hele familie na te vors en aan die begin van 2008 het hy oor 'n databasis van meer as 42 000 persone beskik. Hierdie persone is of was gebore Naudé's of hul huweliksmaats of die kinders van Naudé-dogters. Op daardie tydstip het hy reeds meer as 33 000 van hulle in een stamboom gekoppel.
Bron: Naudé's van Naudésnek ; bouers van die Naudésnekpas oos van Rhodes, en hul voor-en nageslag / saamgestel deur Stephanus David Naudé in samewerking met verskeie lede van die familie. 2009